Die debat oor Intelligente Ontwerp wat van Julie tot Oktober verlede jaar in Die Burger gewoed het ná my negatiewe resensie van Leon Rousseau se boek Die Groot Avontuur (Human & Rousseau) het verder uitgekring. Rousseau het in repliek op Karel de Pauw se oorwegend positiewe resensie op my boek Geloof, Bygeloof en Ander Wensdenkery: Perspektiewe op Ontdekkings en Irrasionaliteite (Protea Boekhuis), die volgende repliek versprei. Ek antwoord hom ná sy repliek hieronder.
Repliek deur Leon Rousseau
Verlede week was daar in Die Burger ’n ophemelende resensie deur Karel de Pauw van die boek Geloof, bygeloof en ander wensdenkery. (http://152.111.1.251/argief/berigte/dieburger/2007/10/15/SK/13/BBclaasen.html). Daarin verwys De Pauw by wyse van teenstelling afkeurend na “pseudo-wetenskaplike argumente” in Die groot gedagte deur Gideon Joubert en in my boek Die groot avontuur.
Sowel Die groot gedagte (natuurwetenskappe, sterrekunde) as Die groot avontuur (ontstaan van lewe, evolusie) is bedoel om populêr in die sin van “toeganklik” te wees. Pseudo-wetenskap, daarenteen, is so ’n sterk woord dat dit meestal gereserveer word vir wilde bespiegelaars soos David Icke en Von Däniken, skrywer van Chariots of the gods, en dié is Joubert se boek en myne nie.
Later maak De Pauw die pap nog ’n bietjie dikker aan en sê “die argumente en feite [in Geloof, bygeloof . . . is] die spreekwoordelike pêrels voor die swyne wat sekere skrywers betref.” Hy verwys kennelik na my en na Gideon Joubert.
Die rede vir dié nydigheid is eenvoudig. De Pauw, saam met geesgenote soos Nathan Bond en George Claassen (skrywer van Geloof, bygeloof . . .) is ’n spraaksame voorbok in die militante ateïstiese beweging. Dié broeders in die ongeloof praat uit een mond.
Daar is ’n verskil tussen ateïste – elke mens het die reg op sy eie mening – en militante ateïste, wat die ateïsme aanhang soos pasbekeerdes wat die hele wêreld wil bekeer en selfs nie die sweem van ’n ander standpunt duld nie.
Hulle verdoem Die groot avontuur omdat ek, sonder om dit as wetenskaplike teorie voor te lê, op ’n paar plekke vertel van my indruk dat daar ’n groot intelligensie agter die wondere van die heelal moet wees. Aan dié ongeveer 1% van die boek het een van hulle 70% van ’n lang, venynige resensie bestee. In Gideon Joubert se boek speel geloof ’n nog groter rol, en hy word ooreenstemmend nog meer verguis as ek. Hulle praat van “Joubertisme” in ongeveer dieselfde toon as wat sekere Christene van “satanisme” praat.
My eie boek was onder meer ’n poging om die kloof tussen geloof en wetenskap (spesifiek evolusie) te verklein, soos ook die doyen van Suid-Afrikaanse wetenskaplikes, prof Phillip Tobias, al lewenslank probeer doen.
Omstreeks 1960, kort ná Koos Human en ek Human & Rousseau gestig het, het ek enkele briewe met prof. Raymond Dart van Wits gewissel. Dit was op ’n besoek aan Johannesburg dat hy my kort daarna aan die woeste wêreld van Australopithecus, die Suideraap, bekend gestel het.
Met idealistiese sending-ywer het ek toe by Human & Rousseau ’n boekie, Die wording van die mens, evolusie vir jongmense, uitgegee, maar kerk en staat was (in Jurie van den Heever se woorde) toe nog so stewig aan mekaar vasgesweis dat dit ons all-time worst seller was. Biblioteke was te bang om ’n boek oor evolusie te koop omdat sekere predikante dit afkeur. Dit was seker een van die dinge wat my aangespoor het om Die groot avontuur te skryf, met die doel om kreasioniste sagkens, sonder aggressie, tot ’n geloof in evolusie te bekeer. Ook in dié opsig het die militante ateïste my boek volkome verkeerd verstaan – anders as gebalanseerde wetenskaplikes soos prof Hilary Deacon, dr Sarah Wurz, prof P A J Ryke (skrywer van Evolusie) en prof Phillip Tobias, wat dit goedgekeur het.
Die groot avontuur is vroeër vanjaar met die Recht Malan-prys vir nie-fiksie bekroon, Die groot gedagte reeds vroeër met sowel die Andrew Murray-prys as die Insig-prys vir nie-fiksie.
Die polarisering tussen geloof en evolusie woed veral in die VSA al baie dekades. Kreasioniste was aanvanklik die lawaaierigste maar deesdae het ’n invloedryke groep wetenskaplikes ewe onverdraagsaam en kleingeestig geword. En by ons is die lekepredikers vir die ateïsme more loyal than the queen.
As iemand soos Galileo in die 17de eeu gesê het, “Ek is ’n gelowige mens, maar my teleskoop wys my dat die aarde om die son draai en nie andersom nie,” kon hy groot probleme van die onverdraagsame inkwisisie verwag. As jy vandag sê “Ek glo in evolusie, maar my [onbewysbare] indruk is dat daar ’n groot intelligensie agter die wondere van die heelal is”, kan jy groot probleme van die militante ateïste verwag.
Van ’n middeweg soos die een wat ek in Die groot avontuur probeer bewandel, het dwepers nog nooit gehou nie.
George Claassen se repliek:
Leon Rousseau se tirade waarin mense wat van hom verskil as “dwepers”, “militante ateïste”, “lekepredikers vir die ateïsme” en ander skelwoorde gebrandmerk word, herinner darem baie aan die Jesuïte se selektiewe aanbieding van feite oor hekse en ander “sondaars” tydens die Spaanse Inkwisisie.
Hy verkies om mense etikette om die nek te hang, maar sy betoog hiernaas verdraai die waarheid oor sy boek, Die Groot Avontuur (Human & Rousseau-uitgewers). Ek sal op die gebreke in sy boek konsentreer en my nie tot persoonlike beledigings wend soos hy nie.
Hy maak beswaar dat sy boek en die soortgelyke pseudowetenskaplike boek van Gideon Joubert, Die Groot Gedagte (Tafelberg-uitgewers), nie as sodanig getipeer kan word nie omdat hulle nie “wilde bespiegelaars soos David Icke en Erich van Däniken” is nie.
Ek verskil van hom: Altwee boeke is deurspek met pseudowetenskaplike aansprake.
Rousseau vertel ons met smaak van al die wetenskaplikes wat sy boek ondersteun het, maar verswyg om een of ander duister rede die feit dat prof. Phillip Tobias hom ná my resensie oor die boek in Die Burger in ’n brief aan die koerant van die boek gedistansieer het weens die pseudowetenskaplike aard daarvan. (Terloops, die twee beoordelaars van die Recht Malan-prys wat Rousseau se boek bekroon het, was, raai-raai ’n teoloog en ’n sosioloog. Een van hulle het daarna teenoor my erken hulle het nie Tobias se brief aan Die Burger by die beoordeling in ag geneem nie!).
In sy brief, gepubliseer op 9 September verlede jaar in Die Burger, skryf Tobias, nadat ek in my resensie gevra het of hy “die skade wat sy aanbeveling van die boek in die lig van die openlike IO (Intelligente Ontwerp)-aard daarvan, aan sy reputasie as gerekende wetenskaplike doen”, besef:
“Noudat ek die finale gepubliseerde weergawe van Die Groot Avontuur gelees het, het dit vir my duidelik geword Rousseau ondersteun die pseudowetenskaplike konsep van Intelligente Ontwerp … Veral wil ek van hierdie geleentheid gebruik maak om myself ondubbelsinnig van daardie dele van Die Groot Avontuur wat IO ondersteun, te distansieer” (my kursivering).
Vergeet ’n oomblik my resensie (http://152.111.1.251/argief/berigte/dieburger/2006/07/17/DB/11/BBgclaassenrousseau.html) en lees dieselfde klagte teen Rousseau se boek in die resensie van die wetenskaplike Andries Lategan in Beeld (16 Oktober 2006) (http://www.news24.com/Beeld/Vermaak/Boeke/0,,3-2109-2112_2014373,00.html). Lategan wys daarop dat Tobias se avant propos eerder met ’n waarskuwing vervang moes gewees het soos op sigaretpakkies: “Die lees van hierdie boek is skadelik vir ’n gesonde oordeel oor wat evolusioniste sê.”
Lategan spreek hom nes ek, dr. Karel de Pauw, die resensent van my boek, dr. Jurie van den Heever en ander wetenskaplikes uit oor die openbarende toevlug wat Rousseau gereeld in sy boek by ’n Intelligente Ontwerper soek sodra hy nie iets begryp of kan verklaar nie. “ ’n Argument wat berus op iets wat onbegryplik is, kan beswaarlik deel wees van ’n gesprek oor die geldigheid van wetenskaplike teorieë … Rousseau behoort dalk ag te slaan op Karen Armstrong se waarskuwing in A History of God dat mense wat hul godsbegrip wil haak aan die immer krimpende gebiede van natuurverskynsels waarvoor daar nog nie ’n deeglike teorie ontwikkel is nie, altyd aan die hardloop gaan bly voor wetenskaplike vordering,” skryf Lategan.
Rousseau trek so fel met onwetenskaplike bravade los teen my, De Pauw en andere asof ons die enigstes is wat nie die lig oor sy pryswennende boek gesien het nie, maar probeer dan maak asof hy godsdiens en evolusie, gelowige en wetenskaplike, nader aan mekaar wil bring en wil versoen.
Rousseau en ander aanhangers van Intelligente Ontwerp neem nie kennis van die basiese verskil tussen die wetenskap en geloof nie, dat gelowiges absoluut glo, maak nie saak wat die wetenskaplike sê nie, maar dat wetenskap deurgaans met onsekerhede werk en bly vrae vra.
Armstrong is reg: elke stukkie bygeloof wat die wetenskap aftakel en blootlê – en dit sluit die vasklou aan ’n Intelligente Ontwerp-scenario in – laat mense soos Rousseau en Joubert, wat hul godsbegrip wil haak aan alles wat hulle nie kan verklaar in die natuur nie, ’n bietjie vinniger aan die hardloop. Is dit hoekom hy so uitasem reageer op my boek wat rasionaliteit en wetenskaplike bewyse voorstaan as die enigste wyse waarop ons kan weet?
Die Amerikaanse fisikus Lawrence Krauss verwys onlangs in sy tweeweeklikse rubriek “World lines” in New Scientist na dié onhebbelikheid so deel van C.S. Lewis se werke wat die populêre standpunt inneem “that science, by explaining the inner workings of the universe, robs it of the wonder that religion provides – a viewpoint that, frankly, I find offensive.” Voeg maar Rousseau en Joubert by Lewis as die Groot Meesters van die Orde van Intelligente Ontwerp, met my oudkollega Leopold Scholtz as hul stafhoof in die hoofstroommedia. Wie sal sy vreemde en wetenskap-begriplose verdediging van Intelligente Ontwerp in sy rubriek Sake van die Dag ooit kan vergeet midde in die Rousseau-debat in Die Burger ná my resensie van Die Groot Avontuur? (http://152.111.1.251/argief/berigte/dieburger/2006/08/04/SK/8/Sakie4Aug.html).
Krauss se volledige rubriek lui:
LAST month I read a column in The New York Times by David Brooks (http://www.nytimes.com/2008/04/22/opinion/22brooks.html?_r=1&em&ex=1209096000&en=60aba79d67739095&ei=5087&oref=slogin) that has bothered me ever since. In it Brooks describes an essay about the medieval concept of the universe entitled C. S. Lewis and the Star of Bethlehem by Michael Ward (http://www.christianitytoday.com/bc/2008/001/15.30.html), a chaplain at the University of Cambridge.
Brooks writes that “while we moderns see space as a black, cold, mostly empty vastness, with planets and stars propelled by gravitational and other forces, Europeans in the Middle Ages saw a more intimate and magical place. The heavens, to them, were a ceiling of moving spheres, rippling with signs and symbols, and moved by the love of God… The modern view disenchants the universe, Lewis argued, and tends to make it ‘all fact and no meaning’.”
Brooks’s and Ward’s articles both reflect a popular view that science, by explaining the inner workings of the universe, robs it of the wonder that religion provides - a viewpoint that, frankly, I find offensive. How anyone can suggest that medieval hallucinations might spark the imagination more than the actual universe that we have been so fortunate to uncover is beyond me. The “heavenly actors” populating the spiritual universe of Lewis were, like many religious myths, intellectually lazy creations of fundamentally ignorant minds. It is a far grander kind of imagination that is needed to fathom the real universe.
The night sky isn’t populated with mythical beasts, but with a small slice of the 100 billion or so stars in our small island galaxy, the Milky Way, one of 400 billion galaxies in the observable universe. Each of the stars, while not alive in an anthropomorphic sense, houses an exotic world of action at a searing 10 million degrees, releasing the energy equivalent to a thousand billion hydrogen bombs going off every second - a wonder-work of nature’s creation.
The light from the stars of other galaxies takes billions of years to reach us. A Hubble Space Telescope photograph, in which every speck of light represents not a star, but an entire galaxy, with each galaxy containing billions of stars, surely spurs the imagination more than any fable. Around some of these stars there may be planets that once housed life. I say once, because the stars that produced the light in Hubble’s images are probably long gone. We are literally watching the history of the universe unfold before our very eyes.
In our own galaxy, a star explodes in a brilliant supernova once every hundred years or so, and is briefly as bright as 10 billion suns. Yet most such explosions are invisible, obscured by dust, so in fact the last exploding star observed from Earth in our galaxy was seen by Kepler in 1604 (http://space.newscientist.com/article/dn13514-light-echoes-help-gauge-supernovas-fury.html). Yet the universe is so big and old that these events are happening all the time. With a powerful enough telescope a region in the sky at night the size of a dime held at arms length will reveal more than 100,000 galaxies - so many that one may see up to 10 stars explode on a given night. Over time, 200 million stars have exploded in our galaxy, producing almost all the elements that make up our bodies. The atoms in your left hand may have come from a different star than those in your right: we are all star children.
If this poetry of nature does not change the way we view our place in the universe, providing not mere facts but new meaning, then we are truly spiritually bereft. Yet too many people feel that they must invent alternate realities to justify human existence.
Why does it matter if people cling to myths for solace? Because real-world problems such as climate change can only be solved by real-world thinking. Like it or not, the harsh reality is that nature doesn’t exist to serve humanity, and turning to myths that put humans at the centre of creation only distract us from appropriate actions.
Brooks’s column also mentioned Barack Obama’s much-maligned statement that some people turn to religion for refuge from the inequities that abound in Bush’s America - a truth many people would rather not hear. If we live at a time when honest questions about the role of religion and people’s motivations for action cannot be voiced in public, then I worry about our future.”
Aldus Krauss.
Die Rousseauseaanse en Jouberteaanse pro-Intelligente Ontwerpargumente word nou in gewysigde vorm deur ’n buitengewone professor in sielkunde van die Universiteit van Pretoria, Wilhelm Jordaan, herhaal in ’n bespreking van Geloof, Bygeloof en Ander Wensdenkery in die Winter-uitgawe van Boeke-Insig, die puik kwartaalblad onder redaksie van Irna van Zyl. Koop dit gerus, veral om die verstommende vergelyking wat hy tref tussen wetenskap en godsdiens onder oë te kry. Ek lewer in die Lente-uitgawe van Boeke-Insig repliek op Jordaan.
Intussen wag Karel de Pauw steeds op ’n antwoord van Joubert oor die verkeerde wyse waarop hy wetenskaplikes buite konteks aanhaal om sy godsdienstige sienings te probeer staaf.
’n Laaste gedagte: die Amerikaanse genetikus Jerry Coyne som die Rousseau- en Intelligente Ontwerp-benadering raak op: “. . . die werklike oorlog is tussen rasionaliteit en bygeloof. Wetenskap is maar een vorm van rasionaliteit, terwyl godsdiens die algemeenste vorm van bygeloof is . . . As die geskiedenis van die wetenskap ons iets wys, is dit dat ons nêrens kom deur ons onkunde ‘God’ te noem nie.”